Welkom

Baanbrekers is ‘n wêreldwye organisasie van jongmense wat deur die Sewendedag-Adventistekerk geborg word. Jongmense van enige godsdienstige oortuiging, of selfs geen, is egter welkom en word aangemoedig om by die organisasie aan te sluit.

Klublede kom op ‘n gereelde basis bymekaar wanneer hulle, in hul verskeie ouderdomsgroepe, noodsaaklike godsdienstige beginsels en lewensvaardighede aanleer wat hulle voorberei om voorbeeldige leiers in hul gemeenskap te word.

Benewens hierdie klaswerk kan klublede ook hul algemene kennis en vermoëns uitbrei deur toekennings te verwerf in ‘n wye reeks onderwerpe. Hierdie teoretiese kennis word dan ook aangevul deur uitstappies en kampe waar hulle dit wat hul geleer het prakties kan toepas.

Baanbreker Logo 150x150Die Baanbrekerklub is ontwerp vir seuns en meisies, graad 5 tot 10. Die program is propvol aksie, avontuur, uitdaging en groepsaktiwiteite. Dit bied geleenthede vir die ontwikkeling van nuwe gesindhede en vaardighede wat groei, span- en gemeenskapsgees, en ‘n gevoel van lojaliteit en respek vir God, Sy skepping, en Sy kerk bevorder.

 

Voorslaggie Logo 150x162Die Voorslaggieklub maak voorsiening vir die jonger ouderdomsgroep, graad 1 tot 4. Die program voorsien gespesialiseerde aktiwiteite wat ingeskakel is by die geestelike en sielkundige behoeftes van hierdie ouderdomsgroep en kinders word aangemoedig om goeie houdings en gewoontes te ontwikkel, en ‘n verskeidenheid van toekennings te verdien.

 

Besige Bewer Logo 150x161Die Besige Bewers vorm deel van die Voorslaggieklub en is ontwerp vir die kindertuin ouderdomsgroep (5 tot 6 jaar). As gevolg van die jong ouderdom van hierdie kinders word ouer betrokkenheid sterk aanbeveel en die prettige aktiwiteite is ontwerp om ouer-kind verhoudings te versterk. Die ouers, as hul kind se primêre onderwyser en evangeliseerder, word in staat gestel om hul ouerskap kennis uit te brei, en die kinders kry die geleentheid om skoolgereedheidsvaardighede aan te leer.