Dit is reeds meer as twintig jaar sedert die eerste uitgawe van die Voorslaggie Toekenningshandleiding deur die Wêreldkonferensie saamgestel is vir die Wêreld Voorslaggiebediening. Gedurende hierdie tyd was daar baie veranderinge, toevoegings en verbeterings terwyl Voorslaggiebedieninge ook groot groei getoon het. Jongmense in hierdie ouderdomsgroep is vol energie en opgewonde om deel te wees van ‘n organisasie wat ontwerp is om hul horisonne te verbreed en hul verhouding met God, Ma en Pa te versterk deur metodes wat soveel pret insluit.
Die dak oor die Voorslaggiebediening word deur verskeie sterk pilare ondersteun. Hier vind jy een van hulle: die nuutste bygewerkte inligting van al die toekennings wat tans aanvaar is vir wêreldwye gebruik. Daar is natuurlik ‘n klein probleem: hierdie deel van Voorslaggiepret bied nie net statiese moontlikhede nie, dit is ‘n immer-groeiende – so te sê ontploffende – bron van aktiwiteit. Daar word steeds meer toekennings ontwerp, geloods, en bekendgestel. Jy sal dus van tyd tot tyd wil terugkeer na hierdie webwerf om te sien watter nuwe prettige, insiggewende, energieke toekennings volgende uitkom.
Ons beveel aan dat jy versigtig deur al die toekennings wat hierin gepubliseer is gaan en ‘n verskeidenheid kies wat aan elkeen van jou Voorslaggies ‘n goed-afgeronde program sal bied wat belangstelling en opwinding by hulle sal aanwakker. Kyk na metodes om elke toekenning betekenisvol en interessant te maak. Vereistes is minimums, nie maksimums nie; die doel moet NOOIT wees om net nog ‘n kenteken tot ‘n kind se skouerband toe te voeg met die minste moontlike moeite nie! Die doel is om ‘n belangstelling in die kind te ontwaak in die ontwikkeling van ‘n passie of om ‘n sluimerende, voorheen verborge talent op te wek. Hoe meer ons elke kind uitdaag om hul bes te doen, hoe meer sal elkeen “verstandelik en liggaamlik groei en in guns by God en die mense toeneem.”
Sodat ons nie vergeet dat hierdie ‘n BEDIENING is en nie net nog ‘n klub nie, moet ons voortdurend onthou dat ‘n belangrike komponent van elke toekenning die geestelike komponent is – terwyl elke toekenning ‘n belangstelling in die gekose vak behoort te ontwaak, moet dit ook vir die Voorslaggie ‘n ander faset van God se belangstelling in en sorg vir elke kind wys. Terwyl perfeksie nie die vereiste vir elke toekenning is nie, moet ons voortdurend daarna streef om elkeen aan te moedig om hul absolute bes te doen op watter vlak hulle hulself bevind in die erkenning dat God nog nie met hulle klaar is nie – en ook nie met ons as leiers nie!
Voorslaggietoekennings word in die volgende kategorieë verdeel:
Geestelik | Huisvlyt | Kunsvlyt |
Natuurstudie | Ontspanning |