Vir diegene wat daarmee vertroud is, bring Baanbrekers gewoonlik herinneringe terug van marsjeer, kamp, interessante stokperdjies, goggas en vlermuise. Om hul horisonne te verbreed en ‘n verhouding met God te bou is die tweeledige doelwitte van die klub, wat ontwerp is vir kinders in graad 5 tot 10. Met byna twee miljoen lede regoor die wêreld, aanvaar hierdie Sewendedag-Adventistekerk-geborgde klub enige jeug wat beloof om die Baanbrekergelofte en -wet te onderhou, ongeag hul kerkverband.
Leierskap
Die leierskap bestaan uit vrywilligers, vaardig in ‘n magdom van ongewone vermoëns en belangstellings, wat allereers sterk gelowiges in Jesus Christus is en seker van die pad wat hulle neem na die ewige lewe. Hulle beskou die Baanbrekerklub as ‘n eksperimentele laboratorium waar groei en leer sinoniem is met pret. Mislukking word nie verwag nie, maar alle aktiwiteite word eerder ‘n leer-instrument.
Aktiwiteite
Die verbeelding van die leierskap en lede is die grootste beperking op wat ‘n klub kan vermag. Aktiwiteite strek vanaf gemeenskaps-/burgerlike diensprojekte in die gemeenskap en oor die hele wêreld tot natuur- en omgewingsbewaringstudies tot kampeer en hoë avontuur uitstappies. Baanbrekers daag die unieke talente van elke lid uit. Baanbrekers is gebou op ‘n ouderdom-spesifieke kurrikulum van ses vlakke tesame met meer as 350 gespesialiseerde vaardigheidsontwikkelingsonderwerpe wat kunsvlyt, watersport, natuurstudie, huisvlyt, ontspanning, geestelike ontwikkeling, gesondheid en beroepsopleiding dek. Dit dien dikwels as ‘n vertrekpunt vir lewenslange loopbane of stokperdjies.