Die Wêreldwye Advent Ontwaking (laat 1700’s tot 1844 tydperk)

Visionary K1 2011 (SDA Oorsprong) pdf klein          Hardware-Printer-Floppy-icon-small
Visionary                                .

Drie Skouspelagtige Tekens

Gedurende hierdie tydperk het verskeie skouspelagtige tekens in die natuurlike wêreld verskyn, wat deur teoloë en sekulêre media vertolk was as tekens van ernstige dinge wat sou kom – miskien selfs Jesus Christus se wederkoms. Die eerste van hierdie (1755) staan bekend as die Lissabon Aardbewing, as gevolg van die massiewe vernietiging wat in daardie stad veroorsaak is en waarna die burgers steeds verwys.

Dit was tot so ver as Skandinawië, Groenland en die Wes-Indiese Eilande gevoel, wat ‘n streek van meer as ses miljoen vierkante kilometer dek. Die aardbewing was ‘n duidelike vervulling van die profesie verbonde aan die opening van die sesde seël van Openbaring 6:12, 13.

Die tweede profesie-vervulde gebeurtenis het toe 25 jaar later, in 1780 plaasgevind soos voorspel deur Jesus en aangeteken in Markus 13:24. Die 1260-jaar tydperk waarna verwys is as “daardie tyd” het in 1798 geëindig, maar die vervolging sou voor die einde van daardie tyd-profesie kortgeknip word. Dit het gebeur met die dekreet van die Keiserin Maria Theresa en die Verdraagsaamheidswette van 1773 tot 1776. Die teken sou dus tussen daardie datums en 1798 plaasvind. Dit het gebeur soos voorspel met die Donker Dag van 19 Mei 1780.

Die koerante het in daardie tyd duidelik berig gelewer oor die mees ongewone omstandighede van hierdie gebeurtenis, wat oor die noordoostelike state van Amerika plaasgevind het. Noah Webster het jare later geskryf: “Geen bevredigende rede is ooit gegee om die oorsaak vir die duisternis te verduidelik nie.” Ondanks die feit dat daar ‘n volmaan was het diegene wat die duisternis van die nag van 19 Mei beskryf het gesê dat “as elke verligte liggaam in die heelal uitgewis was, kon die duisternis nie meer volledig gewees het nie.”

Die derde teken wat gegee is het eers op 13 November 1833 in die Westelike halfrond en toe weer ‘n paar dae later, op 25 November oor Europa plaasgevind – twee ongelooflike meteoorreëns “soos nog nooit in die geskiedenis aangeteken is nie” (om ‘n koerant van die tyd aan te haal). Die eerste reën was gesien van Hawaii tot die middel van die Atlantiese Oseaan en van Hudson Bay, Kanada, tot die noorde van Suid-Amerika en is beskryf as “strome van vuur wat uit die hemel kom” en “dit het so dik soos sneeuvlokkies in ‘n sneeustorm geval.” Die tweede is beskryf as “soos ‘n vuurreën … het dit die nag so lig gemaak dat die mense gedink het dat die huise naby hulle aan die brand moes gewees het.” “Perde is daardeur bang gemaak en het op die grond neergeval. Baie mense was siek van vrees.” So is die profesie van Openbaring 6:13 vervul.

Hierdie drie skouspelagtige tekens in die natuurlike wêreld, wat deur God daar geplaas is om mense se aandag op die waarheid te vestig, het groot stukrag gegee aan die verkondiging van die Adventboodskap.

Advent Ambassadeurs Deur die Wêreld

Die Adventbeweging het terselfdertyd in beide Europa en Amerika begin toe manne van God gelei was om Bybelprofesieë te bestudeer. Dit was die voorsienigheid dat Christene in verskeie lande die Skrif bestudeer en tot die geloof gekom het dat Jesus binnekort kom. Ons lys net ‘n paar van die meer prominente mense hier:

William Miller

William Miller

William Miller (15 Februarie 1782 – 20 Desember 1849) was die mees prominente Amerikaanse prediker van Christus se wederkoms gedurende die eerste helfte van die negentiende eeu.

Sy vroeëre boodskappe het die tekens van die wederkoms ingesluit, spesifiek die een wat reeds tydens die Donker Dag van 19 Mei 1780 vervul is. Sy werk was gou aangehelp deur nog ‘n wonderbaarlike teken, met die val van die sterre op 13 November 1833.

Miller het die 2300-dag profesie van Daniël 8 en 9 bestudeer en was oortuig dat die reiniging van die heiligdom die reiniging van die aarde deur vuur was met Christus se wederkoms. Hoewel hy baie oor die wederkoms gepraat het, het hy eers laat in 1844 ‘n definitiewe datum aanvaar.

Toe 1843 en 1844 verbygegaan het en Jesus nie gekom het nie, het dit nie William Miller se geloof geskud nie. Hy het voortgegaan om die wederkoms te verkondig. Sy openbare bediening het in 1845 geëindig en hy is vier jaar later oorlede. Regdeur sy lewe was Miller ‘n leier in God se werk en ‘n ywerige Bybelstudent, maar hy het egter nie so vêr gekom om die Sabbatwaarheid in te sien nie.

In tien jaar van bediening het William Miller meer as drie duisend lesings in byna ‘n duisend verskillende plekke gelewer. Hy het min geld vir sy werk ontvang, maar sy naam was onskeibaar van die Adventbeweging. Hy was die leier van die beweging waaruit ons ontstaan het. Miller is tereg die “Môrester” van die Adventbeweging genoem omdat:

  1. Hy die prediking van die eerste engel se boodskap aanbeveel het.
  2. Hy die evangelie met sulke ywer en geesdrif verkondig het dat die vroeë werk vir jare as Millerisme bekend gestaan het en sy volgelinge Milleriete genoem was.
    Joshua V. Himes

    Joshua V Himes

    Joshua Vaughan Himes (1805–1895). Die sewe-en-vyftig jaar oue Miller het die vyf-en-dertig jaar oue Himes op Exeter, New Hampshire, ontmoet in November 1839. In Desember het Miller by Himes se kerk in Boston gepreek, waar hy heelwat mense, insluitend Himes bekeer het. Van toe af het Himes Miller se hoof promotor geword en preekafsprake in die meeste van die land se groot stede gereël.

    Hy het die “Signs of the Times” in 1840 in Boston begin publiseer. Nog ‘n aantal Adventskrywe is gepubliseer, insluitend “The Midnight Cry (1842)” met ‘n daaglikse uitgawe van 10,000 kopieë. Dit het vir vier weke aangehou en toe ‘n weekblad geword. Kampvergaderings wat deur duisende bygewoon is het die boodskap gou laat versprei.

    Himes was ‘n merkwaardige karakter, ‘n sterk leier, dapper promotor en organiseerder van die Millerietbeweging. Sy bydrae in die vervaardiging van die eerste tydskrif oor die wederkoms van Christus was ‘n belangrike krag in die verkondiging van die Advent in Amerika. Sy loopbaan ná 1850 is nie opvallend nie, aangesien hy nie by die Sewendedag-Adventistegroep aangesluit het na die teleurstelling nie. Hy het egter sy belang in die Adventboodskap behou tot sy dood in 1895.

    Josiah Litch

    Josiah Litch

    Dr. Josiah Litch (1809–1886). Gedurende die verloop van Miller se prediking het meer as 200 predikante en 500 dosente by hom aangesluit in die verspreiding van die Advent-boodskap. Een van die eerste hiervan was Josiah Litch.

    Hy het op die ouderdom van sewentien ‘n Christen geword, by die Metodiste Kerk aangesluit en ‘n predikant geword. Hy het in 1838 ‘n boekie gelees wat deur Miller geskryf is. Hy was onseker oor Miller se stellings en het gevoel dat hy hulle in ‘n paar minute kon verkeerd bewys. Hy het egter erken, “Voor die einde van die boek was ek oortuig dat die argumente so duidelik was en dat hulle so Skriftuurlik was dat dit onmoontlik was om die stellings wat mnr Miller gepoog het om te staaf, te weerlê.”

    Charles Fitch

    Charles Fitch

    Charles Fitch (1805–1844) was die leraar van ‘n Gemeentelike kerk in Boston toe hy Miller se gedrukte lesings bestudeer het en begin het om die Adventboodskap te preek.

    Fitch het op vier maniere tot die beweging bygedra:

    1. Prediker – Sy sentrale tema was “Berei jou voor om jou God te ontmoet.” Van al die predikers in die beweging was daar van hom gesê, “miskien was geen ander so wyd liefgehad nie.”
    2. Skrywer – Hy het ‘n wyd verspreide skrywe getiteld “Second Advent of Christ” gepubliseer.
    3. Himne-skrywer – Hy het verskeie gesange geskryf, waaronder een vandag nog in die ou Advent-Lofliedere (oftewel, Church Hymnal , no. 304, One Precious Boon, O Lord, I Seek), gesing word op die wysie van Uxbridge deur Lowel Mason.
    4. Kunstenaar – Miskien word hy vandag die meeste onthou vir sy uiters bekwaamheid in die ontwikkeling van die eerste profetiese kaarte (1842) deur die konsep van oudio-visuele publieke evangelisasie.
    Joseph Wolff

    Joseph Wolff

    Joseph Wolff (1795 – 2 Mei 1862) het van 1821 tot 1845 in Afrika, Sirië, Persië, Indië, die Verenigde State van Amerika en selfs na die eiland van St Helena gereis. Hy het vir regeerders sowel as armlastiges gepreek. Hy was een van die wêreld se mees beroemdste sendingreisigers en taalstudente, en het bekend geword as die “sendeling aan die wêreld.” Joseph is in Beiere (Bavaria) gebore en was die seun van ‘n Joodse rabbi. Toe hy elf jaar oud was, het hy die huis verlaat op soek na ‘n opvoeding, sodat hy dalk ‘n sendeling kon word. Hy is in die Rooms-Katolieke Kerk gedoop, maar het baie gou die gesag van die kerk op leerstellings en dogma uitgedaag.

    Wolff kon 14 tale praat, wat hom geskik gemaak het om met groot gemak met hooggeplaasdes sowel as gewone mense te kommunikeer.

    Sy reise in Asië en Afrika het baie gevare en noue ontkomings ingesluit. Hy is geslaan, uitgehonger en in slawerny verkoop. Drie keer het hy die doodstraf ontvang. Deur dit alles, het hy sy Bybel gedra en mense gewaarsku van die Messias se komende regering.

    Edward Irving

    Edward Irving

    Edward Irving (4 Augustus 1792 – 7 Desember 1834). Naas Noord-Amerika, het die verkondiging van die wederkoms sy grootste ontwikkeling in Groot-Brittanje gehad.

    As ‘n Skotse evangelis het Edward Irving, wat sy M.A. op die ouderdom van sewentien ontvang het, die profesieë begin bestudeer, en veral dié wat na die wederkoms verwys. Sy statuur (1.95m.) en sy welsprekendheid het die hoër klasse gelok, insluitend die Eerste Minister. Die kerke was so vol dat kaartjies ses weke voor die tyd gekoop moes word. ‘n Predikant van Parys het hom hoor preek en vir hom ‘n afskrif van Lacunza se boek, “The Coming of the Messiah in Glory and Majesty” geleen. Irving het Spaans geleer om dit te kon lees, en dit toe in Engels vertaal. Hy was ook ‘n belangrike deelnemer in die Albury konferensies wat deur Henry Drummond georganiseer was.

    Henry Drummond

    Henry Drummond

    Henry Drummond (5 Desember 1786 – 20 Februarie 1860), ‘n Engelse bankier en lid van die Parlement, het sy lewe aan Christelike diens gewy. Hy het ‘n reeks van vyf jaarlikse profetiese konferensies gereël. Sowat twintig predikante van verskeie kerk- en ortodokse kommunies en lande was teenwoordig, onder wie Joseph Wolff. Die profesieë van die boeke van Daniël en Openbaring is op hierdie konferensies bestudeer. Hieroor het Irving geskryf: “Ons was so oorweldig deur die een Gees van waarheid en liefde om ons weg te vind na harmonie en ooreenstemming in die belangrikste punte van al hierdie vrae.”

    Manuel Lacunza

    Manuel Lacunza

    Manuel Diaz Lacunza S.J. (gebore Santiago, Chili, 1731; oorlede Imola, Italië rondom 18 Junie 1801) was ‘n Jesuïet priester wat, onder die skuilnaam van Juan Ben-Ezra, aandag op die profesieë van Daniël en Openbaring gevestig het. Hy is in Chili gebore en het later in Spanje en Italië in ballingskap geleef. Hy was ontevrede met die Katolieke interpretasies van die profesieë en het na die Bybel gegaan om vir homself uit te vind. Sy studie het daartoe gelei dat hy die boek “The Coming of the Messiah in Glory and Majesty” geskryf het. Ten spyte van moeisame hand-kopiëring is dit wyd versprei en is vertaal uit Spaans in Latyn, Italiaans en Engels (hierdie een deur Irving).

    George Whitefield

    George Whitefield

    George Whitefield (27 Desember 1714 – 30 September, 1770), ook bekend as George Whitfield, was ‘n Engelse Anglikaanse prediker wat gehelp het om die Groot Ontwaking in Brittanje, en veral in die Amerikaanse kolonies, te versprei.

    Hy is in Gloucester, Engeland gebore en het Pembroke College, Oxford bygewoon, waar hy die Wesley-broers ontmoet het. Hy was een van die stigters van Metodisme en van die evangeliese beweging oor die algemeen. In 1740 het Whitefield na Amerika gereis waar hy ‘n reeks herlewings gepreek het wat ​​as die “Groot Ontwaking” bekend geword het. Hy het moontlik die bekendste prediker in Brittanje en Amerika gedurende die 18de eeu geword en, omdat hy deur al die Amerikaanse kolonies gereis het en groot skare en mediadekking getrek het, was hy een van die mees erkende openbare figure in koloniale Amerika.

    Samuel S. Snow

    Samuel Snow

    Samuel Sheffield Snow (1806–1890) was ‘n skeptikus wat ‘n milleriet-prediker geword het en bereken het dat die wederkoms van Christus op 22 Oktober 1844 sou plaasvind. Sy onderrig het aanleiding gegee tot wat as die “Sewende-maand beweging” bekend geword het, wat gelei het tot die groot teleurstelling toe Jesus nie teruggekeer het soos verwag nie.

    Bronne:

Back