Vriende is kosbaar in jou lewe. Vir verskeie redes wil almal ‘n “ware vriend” hê. Niemand wil alleen voel nie en ‘n vriend kan jou help om dit te voorkom. Jy het ‘n vriend nodig as jy in die moeilikheid is, om mee pret te hê, ervaringe te deel, te praat en om daar te wees vir mekaar. Hoewel dit maklik mag wees om vriende te maak, is daar heelwat eienskappe wat jy van ‘n ware vriend verwag.
Hier is tien eienskappe wat elke vriend behoort te hê:
-
EERLIKHEID
Eerlikheid is die beste beleid om ‘n vriendskap aan die gang te hou. ‘n Ware vriend sal altyd die waarheid praat en nooit leuens vertel nie. Almal wil ‘n “ware vriend” hê en jy sal nooit jou vriendskap behou as jy nie die waarheid praat nie, selfs al maak dit seer. As jou vriend uitvind dat jy sekere belangrike feite weet wat jou dalk seer maak en jy hierdie inligting wegsteek, sal jy die vertrouensband verloor waarop vriendskap gebaseer is.
-
‘N GOEIE LUISTERAAR
Jy het ‘n vriend nodig om jou probleme mee te deel. Jy wil nie met almal oor jou probleme praat nie en ‘n ware vriend sal luister en probeer om nuttige raad te gee. Selfs al het jy raad nodig oor probleme in jou huisgesin, sal ‘n vriend sy/haar opinie gee sonder om in jou gesin se verhouding in te meng.
-
BETROUBAARHEID
Vertroue is ‘n belangrike aspek in elke vriendskap. Jy deel amper alles met jou vriend, ook vertroulike inligting. Jy moet kan staatmaak op jou vriend se woord dat hierdie inligting tussen julle sal bly.
-
RESPEK
Almal het verskillende menings en dit is belangrik dat jou vriend respek toon vir jou standpunt. Hy/sy hoef nie noodwendig met jou punte saam te stem nie en kan soms probeer om jou opinies te verander, maar hy/sy moet jou altyd respekteer, selfs al stem hy/sy nie saam met jou nie.
-
OM PRET TE HÊ
‘n Vriend is nie net waardevol vir jou probleme nie, jy het ook iemand nodig met wie jy pret kan hê. Almal moet kan lag en ‘n bietjie humor is nodig in jou vriendskap.
-
GOEIE GESELSKAP
Jy sal baie aktiwiteite saam met jou vriend doen. Julle sal miskien saam na ‘n fliek, kamp of ‘n kerkaktiwiteit toe gaan of miskien saam reis. Jou vriend moet goeie geselskap wees om julle aktiwiteite te kan geniet.
-
GEDULD
Daar is omstandighede waar jou vriend se geduld noodsaaklik is. Dit is moontlik dat jy kan kla oor sekere kwessies wat jy nie met enigiemand anders kan deel nie. Geduld is ‘n belangrike eienskap wat jou vriend nodig het om jou deur hierdie proses te help.
-
VERGIFNIS
Vergifnis is ‘n belangrike eienskap van ‘n ware vriend. Dit is noodsaaklik wanneer daar probleme ontstaan tussen jou en jou maat. Almal maak foute en soms sê hulle dinge wat hulle nie bedoel nie. Vergifnis is belangrik vir die handhawing van jou vriendskap en niemand behoort sy of haar beste vriend te verloor deur ‘n misverstand of ‘n klein konflik nie. Dit beteken egter nie dat ‘n Christen ooit harmonie met sonde kan voel nie.
-
AANMOEDIGING
Daar is altyd tydperke in jou lewe wanneer jy af voel of dalk ‘n bietjie depressief is. ‘n Goeie vriend sal sy/haar vriend aanmoedig om dinge te doen wat hom/haar beter sal laat voel. Aanmoediging is ‘n uitstekende eienskap wat elke vriend moet hê om mekaar deur ‘n moeilike proses te help. Hy/sy sal altyd bereid wees om saam met jou en ook vir jou te bid in hierdie situasies.
-
OMGEE
‘n Ware vriend sal altyd vir jou omgee, in goeie en slegte situasies. As jy siek is sal hy/sy probeer om jou soveel moontlik te besoek. Hy/sy sal altyd vir jou omgee, maak nie saak watter probleem jy het nie en sal die nodige ondersteuning gee om sekere doelwitte te bereik.
‘n Ware vriend sal altyd oor hierdie tien eienskappe beskik en selfs nog meer wat vir jou belangrik kan wees. As jy ook hierdie eienskappe aan jou vriend gee is daar geen kans dat julle vriendskap ooit tot niet sal gaan nie. Hierdie eienskappe is belangrik vir ‘n lewenslange vriendskap en dit is wat ons almal van ware vriendskap verwag. As jy vriende met hierdie eienskappe het moet jy hulle koester, want dit is noodsaaklik in jou lewe.